Loop u pasiënte ’n groter risiko vir erge siekte weens COVID-19? 

Ons ondersoek ibusatrelvir, ’n mondelikse antivirale middel, by hoërisiko- volwasse en adolessente pasiënte met COVID-19. 

Vir baie kan ’n diagnose van COVID-19 nog altyd ’n beduidende uitwerking op hulle daaglikse lewe en welstand hê.  

Hoewel kliniese studies getoon het dat party COVID-19-behandelings ’n vermindering gedemonstreer het in die risiko van hospitalisering en dood vir pasiënte wat ’n hoër risiko vir erge siekte het,1 bestaan daar steeds ’n behoefte vir nog COVID-19-behandelingsopsies wat nie toediening in ’n gesondheidsorgopset vereis nie, wat nie deur medikasie-interaksies beperk word nie en deur mense geneem kan word wat dalk nie kandidate vir ander behandelings is nie.

Pfizer ASPIRE-HR is ’n fase 3- kliniese studie wat mondeliks toegediende ibusatrelvir evalueer. 

Hierdie kliniese studie sal die veiligheid, doeltreffendheid en draaglikheid van mondelikse ibusatrelvir evalueer in vergelyking met plasebo by niegehospitaliseerde, simptomatiese volwasse en adolessente deelnemers met COVID-19 wat ’n hoë risiko loop om tot erge siekte te vorder. 

As die kliniese studie suksesvol is en die navorsingsmedisyne deur reguleerders goedgekeur word, het ibusatrelvir die potensiaal om ’n COVID-19-behandeling vir pasiënte met beperkte behandelingsopsies te wees.  

Kyk na hierdie video om meer oor ibusatrelvir en die ASPIRE-HR- kliniese studie te wete te kom: 

Deelnemergeskiktheid

Hierdie kliniese studie skryf niegehospitaliseerde deelnemers in wat:  

  • Volwassenes (18+) of adolessente (12+) is 
  • COVID-19 het en binne die afgelope 5 dae tekens of simptome ontwikkel het
  • Risikofaktore vir erge siekte of komplikasies van COVID-19 het, insluitende:
    • BMI ≥30 kg/m2
    • Tans ’n roker
    • Chroniese longsiekte
    • Asma wat daagliks voorgeskrewe behandeling vereis
    • Kardiovaskulêre siekte
    • Tipe 1- of tipe 2-diabetes
    • Ligte tot matige nierverswakking
    • Neuro-ontwikkelingsteurings
    • Sekelselsiekte
    • Matige immuunonderdrukking
  • Moontlik nie in staat of bereid om tans goedgekeurde behandelings vir COVID-19 te neem nie
  • Het nie in die afgelope 4 maande ’n COVID-19-inenting ontvang nie

Bykomende vereistes is van toepassing. Net hoofnavorsers kan geskiktheid bepaal.   

Meer oor die kliniese studie

Geskikte deelnemers sal 1:1 verewekansig word om mondelikse ibusatrelvir of plasebo 5 dae lank twee keer per dag (10 dosisse altesaam) te ontvang. Deelnemers sal ook moontlik toegelate standaardsorgbehandelings vir COVID-19 kry. 

Deelnemers sal ongeveer 24 weke aan die studie deelneem, insluitende sifting, behandeling en opvolg. Deelnemers sal ten minste 12 afsprake moet bywoon, waarvan party deur middel van telegeneeskunde uitgevoer kan word.   

Daar is geen koste om deel te neem nie en dit is nie ’n vereiste om lid van ’n mediese fonds te wees nie. Deelnemers sal vergoeding ontvang as hulle kliniesestudieaktiwiteite voltooi. 

Saam kan ons ’n verskil maak.

Mense word dikwels aan kliniese studies bekendgestel deur gesprekke met hulle gesondheidsorgverskaffers. Ons waardeer dat u die tyd neem om gesprekke te hê met u pasiënte en hulle geliefdes wat moontlik daarin kan belangstel om ’n bydrae tot navorsing te lewer.  

As enige van u pasiënte aan hierdie kliniese studie deelneem, sal hulle die opsie hê om onder u mediese sorg te bly vir alle niestudieverwante behoeftes. 

Dankie dat u u pasiënte vir hierdie belangrike kliniese studie oorweeg.   

Ibusatrelvir se werkingsmeganisme

Ibusatrelvir is ’n selektiewe inhibeerder van ernstige akute respiratoriese sindroom-koronavirus 2 (SARS-CoV-2) se hoofprotease (Mpro), ’n viraal gekodeerde ensiem wat van uiterste belang vir die SARS-CoV-2-replikasiesiklus is.

In vroeëre studies is waargeneem dat ibusatrelvir SARS-CoV-2- virale RNS-vlakke by pasiënte met COVID-19 deur inhibering van virusreplisering verminder.2 Vorige studies toon dat inhibering van virusreplisering moontlik tot positiewe kliniese uitkomste kan lei, insluitende voorkoming van siekteprogressie en laer voorkoms van hospitalisering en die dood.3, 4

Daarbenewens doen ons navorsing of ibusatrelvir se laer potensiaal vir medikasie-medikasie-interaksies moontlik pasiënte wat ander medikasies vir oorvleuelende gesondheidstoestande neem, sal bevoordeel. 

Ibusatrelvir is ’n navorsingsmiddel en is nie deur enige gesondheidsowerheid goedgekeur nie.

Het u pasiënte met COVID-19 in u sorg?

Om meer te wete te kom oor Pfizer se kliniese studies oor ’n antivirale middel vir COVID-19 en hoe om potensieel geskikte pasiënte te verwys, vul asseblief die kontakvorm in en ’n lid van die Pfizer span sal u kontak.  

Dankie dat u dit oorweeg om Pfizer se kliniese studies oor ’n antivirale middel vir COVID-19 vir u pasiënte te oorweeg. 

Sentrumsoeker

Vind ’n ASPIRE-HR-studiesentrum naby u 

Die ASPIRE-HR- kliniese studie word in verskeie lande wêreldwyd uitgevoer. 

Voer asseblief u poskode in en kies vanuit die aftrekkieslys die optimale afstand om op die kaart te kyk om die naaste studiesentrum te vind. 

      Verwysings

      1. Centers for Disease Control and Prevention. COVID-19 Treatment Clinical Care for Outpatients. CDC. 20 Desember 2024 gepubliseer. Toegang verkry 28 Maart 2025. 

      2. A Study to Understand the Effect and Safety of the Study Medicine PF-07817883 in Adults Who Have Symptoms of COVID-19 But Are Not Hospitalized. ClinicalTrials.gov identifier: NCT05799495. 9 Oktober 2024 bygewerk. Toegang verkry 6 Maart 2025.

      3. Evaluation of Protease Inhibition for COVID-19 in Standard-Risk Patients (EPIC-SR). ClinicalTrials.gov identifier: NCT05011513. Bygewerk 14 Augustus 2023. Toegang verkry 13 Maart 2025.

      4. EPIC-HR: Study of Oral PF-07321332/​Ritonavir Compared With Placebo in Nonhospitalized High Risk Adults With COVID-19. ClinicalTrials.gov identifier: NCT04960202. Bygewerk 9 Februarie 2023. Toegang verkry 13 Maart 2025.